Wednesday, March 31, 2010


Licia Erasmus, kinderboekskrywer: "My groot geheim is dat ons hond, Blixen, my help skryf. Wel, oukei, eintlik lê Blixen net my voete warm terwyl ek skryf, maar iemand moet dit tog doen. Soos baie ander skrywers het sy ook op laerskool al begin skryf - meesal uitskryfwerk!

As sy nie skryf nie, neem sy balletklasse, draf, gym, skilder of geniet haar boekklubaande. Haar grootste vrees is dat sy nie in haar lewe al die boeke gelees gaan kry wat sy nog so graag wil lees nie."

Wednesday, February 24, 2010


Balletklas-reeks
Dansmaats
(meisies 8-12 jaar)
Ballet is deesdae aaklig! Dit voel vir Jana of sy nooit gaan maats maak in haar nuwe balletklas nie. Veral nie as dit van kliekerige, katterige Katja afhang nie. Dan ontmoet Jana 'n nuwe dansmaat. Sal hy sy man kan staan teen Katja? En sal enigiemand Jana glo as sy vertel van die sluiper wat sy onder die verhoog gesien het?
Kategorie: Drama, 62 bladsye. Prys: R55. Bestel hierdie boek by liciae64@gmail.com.
Towerskoene (meisies 8-12 jaar)
In hierdie opvolg van Dansmaats kan Jana nie meer wag vir die beroemde prima ballerina wat hulle balletskool gaan besoek nie. Sy kom soek jong dansers om saam met 'n Russiese balletgeselskap in Die Neutekraker te dans. Sal Jana die rol van Clara kan losdans? Maar dan verdwyn Jana se spesiale gelukbringer-pointes spoorloos. Het katterige Katja wéér iets daarmee te doen? Dan ontdek Jana die skelmstreke is baie groter as wat sy ooit kon dink ...
Kategorie: Drama, 62 bladsye. Prys: R55. Bestel hierdie boek by liciae64@gmail.com.





Die Lugkar (vir seuns 8-12 jaar)

Tjokker dink die lewe is unfair, want sy jonger boetie, Eddie, kry al die aandag. "Ek bind jou sommer aan 'n rocket vas en skiet jou flippen maan toe! Gee die remote!" sis Tjokker, maar Eddie weet as hy net hard genoeg skree, gaan hulle ma hoor en sy gaan beslis weer Eddie se kant vat. Tjokker besluit hy gaan hom eerder met sy skooltaak besig hou, want hy is mal oor goeters uitvind en bou. Maar dan gebeur daar iets met Eddie en net Tjokker kan hom help.
Kategorie: Drama, 30 bladsye. Prys: R45. Bestel hierdie boek by liciae64@gmail.com.


Charlieboy (vir seuns 9 tot 13 jaar)

Charlieboy word vreeslik gespot oor sy rooi hare. Hy het al honderde byname! Boonop speel hy sy hart uit om in die 0/13A-rugbyspan plek te kry, maar dinge wil net nie uitwerk nie. Dan steek 'n groot euwel sy kop uit in hulle skool en Charlieboy is die een wat dit moet uitroei. Gaan hy dit regkry of is die dwelmbaas te slim vir hom? Charlieboy se opvolg, Charlieboy en die onderbroekdief, verskyn later vanjaar by Heinemann Uitgewers. In hierdie storie gaan Charlieboy koshuis toe en hou hy weer sy lyf speurder - hierdie keer om die ontwykende onderbroekdief aan te keer ...
Kategorie: Drama, 54 bladsye. Prys: R50. Bestel hierdie boek by liciae64@gmail.com.

SPLINTERNUWE BOEK VIR TIENERS!!!

Zombies in die Mall (vir meisies van 12-14 jaar)
Bienkie wéét al sy moenie wens nie. Laasjaar het sy gewens haar pa en ma moet ophou gil op mekaar. Wel, hulle het, want hulle bly nou in verskillende huise. Hulle is geskei. En nou bly Bienkie en haar ouer broer saam met haar ma in die stad. Die 'cool'-groep in die skool begin met Bienkie vriende maak. Alhoewel sy die aandag geniet, begin Lize, die leier van die groep, baie druk op haar sit om verkeerde dinge te doen. Soos zombies dwaal Bienkie-hulle gereeld saam met haar nuwe vriende deur die Mall. Is hulle regte pelle of het Lize ander motiewe? Dan is daar Ockert, Lize se vorige boyfriend, met wie Bienkie nie mag praat nie. En ... die ou op Mxit.
Kategorie: 'n drama oor groepsdruk en vriendskap, 58 bladsye. Prys: R55. Bestel hierdie boek by liciae64@gmail.com.


Têkkel hom!
('n rugbystorie vir seuns 8-12 jaar)
Christiaan is baie lief vir rugby, maar hulle 0/11B-span speel elkeen net vir homself. Boonop het Christiaan se pa nooit tyd vir hom nie, ook nie om vir hom te kom kyk as hy rugby speel nie. Hy werk net dag en nag. Dit voel vir hom hy het nie eens 'n pa nie en toe raak sy troetelskilpad ook nog weg ... tot die nag wat drie van hulle besluit om te gaan kyk hoe die skool se spook, waarvan almal praat, lyk.
Kategorie: Avontuur, 33 bladsye. Prys: R45. Bestel hierdie boek by liciae64@gmail.com.

Paaltjies spat!
('n krieketstorie vir seuns 8-12 jaar)
Adrian se passie is krieket. Hy dra elke dag sy krieketbal in sy sak skool toe. Dan hoor hy tydens 'n krieketwedstryd op Nuweland hoe kaartjieknoeiers probeer om van die bekende krieketspelers in te katrol by hulle skelmstreke. Dis net daar en dan wat hy besluit om iets daaraan te doen, maar gaan sy plan werk, want hierdie is gevaarlike misdadigers!
Kategorie: Avontuur, 34 bladsye. Prys: R45. Bestel hierdie boek by liciae64@gmail.com.
Die Teaterspook (vir meisies en seuns 8-10 jaar oud)
Miecke en Okkie speel in die toneelstuk "Die Grilspook van Bloubaai". Vanmiddag begin hulle oefen vir die konsert. Mieckie moes Okkie met 'n pakkie Jelly Tots omkoop om solank saam te kom. Okkie is nog nie seker of hy lus is om aan die konsert deel te neem nie, want hy is nie lus om die spook te wees nie, maar Miecke speel die hoofrol en sy sleep hom saam. Dis net ... Die ou teater waarin hulle oefen is baie grillerig, en word net meer en meer grillerig toe 'n ou tannie met 'n snawelneus en kraalogies vir hulle waarsku om nie met die 'luik' onder die verhoog te lol nie ...
Ek wed jou jy gaan bang wees as jy hierdie een lees!
Kategorie: Riller, 25 bladsye. Prys: R45. Bestel hierdie boek by liciae64@gmail.com.